Wednesday 25 January 2012

Die ANC maak bruin mense weer slawe

7 December 2011



Die skulppuin en visvangtoestelle van die Khoisan, wat duisende jare lank uit die see geleef het, is steeds oral aan die Kaapse kus te vinde. Opeenvolgende geslagte van hul afstammelinge het op dieselfde manier ’n bestaan gemaak.

Dié leefwyse word toenemend bedreig. Die direksies van die blinklyf-ondernemings wat die leeue-aandeel van die beskikbare viskwotas verorber, is topswaar gelaai met die ANC se bekende “Groot Groentes” – ’n beskrywing wat deur die Kongolese gebruik word vir Afrika-politici wat lustig soos varke by die trog vreet.

Die ANC se werkwyse in hierdie opsig is meedoënloos. In ’n onlangse onthulling deur die Sunday ­Times, onder die opskrif “Skuitlose ANC-winkelier kry viskwota vir twee ton”, is berig: “’n Senior ANC-politikus is in die spervuur vir hulpverlening aan ’n partylid om ’n kwota vir twee ton kreef te bekom, hoewel sy nie eens ’n visserskuit besit nie. Maria Brown, wat in ’n tuinhuisie in Darling woon, het die kwota ingepalm met die hulp van Maxwell Moss, voormalige ANC-LP en tans die party se hoof van transformasie in die Wes-Kaap. Die kwota is vroeër toegeken aan altesame 197 vissermanne en -vroue.”

Dit was nie verrassend dat amptenare van die departement van landbou, bosbou en visserye dié toedrag van sake verdedig het eerder as om hul loopbaan in die gedrang te bring nie. Me. Shaheen Moolla, gewese direkteur van mariene en kusbestuur, beskou egter dié toekenning in ’n ander lig: “Dit is absoluut skandalig. Dis ’n kwessie van watter vark eerste by die trog is.” (Sunday Times, 14November)

Maar dit is nie net die bruin mense wat op die see uitvaar wie se bestaan deur die ANC bedreig word nie – ook die bestaan van diegene wat die vis verwerk, word bedreig. Me. Lumka Yengeni, voormalige voorsitter van die arbeidsportefeuljekomitee, het in Oktober teen die bestuurders van Weskus-visfabrieke en vakbondlede uitgevaar en hulle van rassisme beskuldig omdat hulle meer bruin as swart vroue aanstel – ongeag die feit dat dit die demografiese werklikheid van die omgewing weerspieël.

Nadat sy ure laat vir ’n byeenkoms opgedaag het, het Yengeni geweier om ’n vakbondlid die kans te gee om op haar woede-uitbars­ting te reageer. “Moenie praat nie, hou jou smoel,” het sy hom toegesnou. In antwoord op die vraag of sy ’n lys van haar besware kan verskaf, was haar reaksie dat sy nie daar is om “liefdesbriefies” te skryf nie. In ’n latere brief aan die Weekend Argus het Yengeni gesê haar optrede is geregverdig omdat arbeidswette ras as maatstaf vir indiensneming gebruik.

Ook in Oktober is Yengeni se punt met wrede duidelikheid tuisgebring deur die departement van korrektiewe dienste. Luidens ’n berig van Llewellyn Prince in Rapport van 23 Oktober (“Wit, bruin en Indiër benadeel”) het die kommissaris van korrektiewe dienste, mnr. Tom Moyane, instruksies gegee dat die diensstaat saamgestel moet wees uit 79,3% swart werknemers, 9,3% wittes, 8% bruines en 2,5% Indiërs. In ’n brief aan die provinsiale hoofde van die departement het Moyane dit duidelik gemaak dat hulle die gevolge sal dra indien die beleid nie deurgevoer word nie. In die Wes-Kaap is die praktiese gevolg hiervan dat geen bruin mens in die huidige boekjaar aangestel of bevorder mag word nie. Bruin mense word andermaal tot ’n laer stand verneder – slawe wie se stand in die lewe nie deur verdienste, potensiaal, vermoë of toewyding bepaal word nie, maar deur velkleur. Vir die apartheidsregime was bruin mense te donker; vir die ANC is hulle nie donker genoeg nie.

 Dit is die party wat maar te gretig is om die edikte van Julius Malema toe te pas, soos dat “minderhede” weggehou moet word van die “ekonomiese bondels” – ’n eufemisme vir die trog!

Dit is geen wonder nie dat bruin mense reageer met die enigste mag wat hulle in ’n de facto-eenpartystaat het – die geskooldes emigreer toenemend en ontneem die land broodnodige vaardighede. Ander reageer by die stembus. Bruin mense moet ligloop vir politici wat voor die plaaslike verkiesing geskenke aandra, maar hulle agterna die rug toekeer.

En, terloops, sal die minister van finansies, mnr. Pravin Gordhan, asseblief verduidelik hoekom die voorsitter van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap R1,8 miljoen verdien, en hoekom R29 miljoen geoormerk is vir ’n konferensie vir ’n klomp halfgeletterdes sodat hulle op belastingbetalers se koste kan fuif eerder as om te sorg dat hulle geskool word? Met daardie geld kan minstens 500000 werksgeleenthede geskep word. Is daar ’n grootbaas wat bereid is om die ANC-regering aan te vat omdat hy belastingbetalers se geld gebruik om die party te bevorder?

- Die Burger

No comments:

Post a Comment