Tuesday 24 January 2012

SA so gewelddadig oor politici ongestraf bly

17 January 2011



Suid-Afrika het, wat misdaad betref, baie min om op trots te wees, ons veelgeroemde “Trots Suid-Afrika”-veldtog ten spyt.

Met 2100 aanvalle wat verlede maand binne drie weke net in die Wes-Kaap aangemeld is, 1555 padsterftes net in die feestyd, om nie eens te praat van ons moord-, roof- en verkragtingsyfers nie, is ons land voorwaar ’n misdaad-mekka.

Kriminoloë en sielkundiges breek hul kop om te probeer verstaan waarom ons so wetteloos is.

Die antwoord is eintlik heel eenvoudig. Ons minagting spruit uit ons nasionale psige, gevoed deur ’n korrupte staat onder sowel die apartheids- as die ANC-regering. Gevorm deur apartheid, het ons psige versleg onder die ANC se bewind.

Dit is ’n politieke party wat geen ontsag het vir die oppergesag van die reg nie, en wat ’n tydsgees gevestig het wat gaandeweg die grondwetlike instellings vernietig wat bestem was om die oppergesag van die reg te handhaaf. Die aanstelling van ongekwalifiseerde kaders soos Menzi Simelane, en nou Nomgcobo Jiba, as hoof van die nasionale vervolgingsgesag staaf my punt. Ander partylojaliste het die Regterlike Dienskommissie vernietig, asook die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die SA Menseregtekommissie en die sterwende Geslagskommissie, om maar net enkeles te noem. Maar erger nog: Van die president tot by gewone lede van die parlement het toenemende wetteloosheid tweede natuur by politici geword.

Pres. Thabo Mbeki het die presedent geskep met die gebruik van staatsinstellings ter bevegting van sy teenstander, Jacob Zuma. In die proses het Mbeki die meeste van hierdie instellings vernietig. Ondanks sy teenkanting van Mbeki manipuleer pres. Zuma die staat se hulpbronne op dieselfde manier. Hy het onbekwame en ondergekwalifiseerde mense aangestel as hoof van ons land se invloedrykste grondwetlike instellings, met die duidelike bedoeling om dit te verswak.

Beheer oor die kontroles van mag is slegs moontlik indien diegene wat in magsposisies aangestel word, onder verdenking staan. Waar kamerade weet van die ander se geraamtes in die kas, kan volkome beheer oor hulle uitgeoefen word.

Dink aan die reisskandaal. Dit het gewys hoe korrup die binneste heiligdom van die parlement geword het. Pleks daarvan dat die skuldige parlementslede geskors is, het die speaker, Frene Ginwala, en die adjunkspeaker, Baleka Mbete, hierdie onverkwiklike sage onder die maatemmer verberg in die volle wete dat sou al diegene onder verdenking aangekla word, sou die parlement na alle waarskynlikheid ontbind moes word. Hierbenewens is Mbete skuldig bevind aan die bedrieglike verkryging van ’n motorrybewys, en vir haar oortredinge beloon met bevordering tot speaker.

Regter John Hlophe, met sy weergalose geskiedenis van regsoortredinge, is steeds regter-president van die Wes-Kaap. Hy is klei in die staat se hande, sou die regeerders ooit sy beskerming nodig hê.

Die berugte Snuki Zikalala het byna die SAUK vernietig, maar die ANC het aan hom verknog gebly totdat die openbare uitsaaier se boom totaal uitgeval het.
En ons moet nie ou Jackie Selebi, ons voormalige nasionale polisiekommissaris, uit die oog verloor nie.

Net toe ons gedink het ons het die versadigingspunt met die onthullings van straffelose regeringsoptrede bereik, kom Dan Kgothule, Vrystaatse LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning, met ’n minimum-boete en die behoud van sy pos byna skotvry daarvan af nadat hy met ’n snelheid van sowat 235km/h gejaag het.

In hierdie gelade atmosfeer maak die onblusbare Winnie Madikizela-Mandela haar verskyning. Ao. Jannie Odendaal en konst. Abel Twala word verguis en verneder nadat hulle bloot hul plig gedoen het deur madame Madikizela-Mandela se voertuig van die pad te trek weens roekelose bestuur. Hulle word tot skurke gemaak bloot omdat hulle die wet vreesloos toegepas het.

Met haar visier op die polisiebeamptes het die onteerde Winnie gegil: “Weet julle wie ek is?” Hulle moes gesê het: “Ja, ons weet. Jy is ’n gewoonte-oortreder en verkragter van die oppergesag van die reg, in die gedaante van die Moeder van die Nasie.” Hulle moes haar en haar lyfwag geboei het en in die tronk gestop het waar hulle hoort.

William Gossett herinner ons daaraan dat “die oppergesag van die reg binne een misleide generasie uitgewis kan word”.

En Dwight Eisenhower het gewaarsku dat die duidelikste manier om te wys wat die oppergesag van die reg in die alledaagse lewe vir ons beteken, is om in herinnering te roep wat gebeur wanneer daar geen sprake van die oppergesag van die reg is nie.
Zimbabwe, hier kom ons!

- Die Burger

No comments:

Post a Comment