Die skulppuin en visvangtoestelle van
die Khoisan, wat duisende jare lank uit die see geleef het, is steeds oral aan
die Kaapse kus te vinde. Opeenvolgende geslagte van hul afstammelinge het op
dieselfde manier ’n bestaan gemaak.
Dié leefwyse word toenemend bedreig.
Die direksies van die blinklyf-ondernemings wat die leeue-aandeel van die
beskikbare viskwotas verorber, is topswaar gelaai met die ANC se bekende “Groot
Groentes” – ’n beskrywing wat deur die Kongolese gebruik word vir
Afrika-politici wat lustig soos varke by die trog vreet.
Die ANC se werkwyse in hierdie opsig
is meedoënloos. In ’n onlangse onthulling deur die Sunday Times, onder die
opskrif “Skuitlose ANC-winkelier kry viskwota vir twee ton”, is berig: “’n
Senior ANC-politikus is in die spervuur vir hulpverlening aan ’n partylid om ’n
kwota vir twee ton kreef te bekom, hoewel sy nie eens ’n visserskuit besit nie.
Maria Brown, wat in ’n tuinhuisie in Darling woon, het die kwota ingepalm met
die hulp van Maxwell Moss, voormalige ANC-LP en tans die party se hoof van
transformasie in die Wes-Kaap. Die kwota is vroeër toegeken aan altesame 197
vissermanne en -vroue.”
Dit was nie verrassend dat amptenare
van die departement van landbou, bosbou en visserye dié toedrag van sake
verdedig het eerder as om hul loopbaan in die gedrang te bring nie. Me. Shaheen
Moolla, gewese direkteur van mariene en kusbestuur, beskou egter dié toekenning
in ’n ander lig: “Dit is absoluut skandalig. Dis ’n kwessie van watter vark
eerste by die trog is.” (Sunday Times, 14November)
Maar dit is nie net die bruin mense
wat op die see uitvaar wie se bestaan deur die ANC bedreig word nie – ook die
bestaan van diegene wat die vis verwerk, word bedreig. Me. Lumka Yengeni,
voormalige voorsitter van die arbeidsportefeuljekomitee, het in Oktober teen
die bestuurders van Weskus-visfabrieke en vakbondlede uitgevaar en hulle van
rassisme beskuldig omdat hulle meer bruin as swart vroue aanstel – ongeag die
feit dat dit die demografiese werklikheid van die omgewing weerspieël.
Nadat sy ure laat vir ’n byeenkoms
opgedaag het, het Yengeni geweier om ’n vakbondlid die kans te gee om op haar
woede-uitbarsting te reageer. “Moenie praat nie, hou jou smoel,” het sy hom
toegesnou. In antwoord op die vraag of sy ’n lys van haar besware kan verskaf,
was haar reaksie dat sy nie daar is om “liefdesbriefies” te skryf nie. In ’n
latere brief aan die Weekend Argus het Yengeni gesê haar optrede is geregverdig
omdat arbeidswette ras as maatstaf vir indiensneming gebruik.
Ook in Oktober is Yengeni se punt met
wrede duidelikheid tuisgebring deur die departement van korrektiewe dienste.
Luidens ’n berig van Llewellyn Prince in Rapport van 23 Oktober (“Wit, bruin en
Indiër benadeel”) het die kommissaris van korrektiewe dienste, mnr. Tom Moyane,
instruksies gegee dat die diensstaat saamgestel moet wees uit 79,3% swart
werknemers, 9,3% wittes, 8% bruines en 2,5% Indiërs. In ’n brief aan die
provinsiale hoofde van die departement het Moyane dit duidelik gemaak dat hulle
die gevolge sal dra indien die beleid nie deurgevoer word nie. In die Wes-Kaap
is die praktiese gevolg hiervan dat geen bruin mens in die huidige boekjaar
aangestel of bevorder mag word nie. Bruin mense word andermaal tot ’n laer
stand verneder – slawe wie se stand in die lewe nie deur verdienste, potensiaal,
vermoë of toewyding bepaal word nie, maar deur velkleur. Vir die
apartheidsregime was bruin mense te donker; vir die ANC is hulle nie donker
genoeg nie.
Dit is die party wat maar te gretig is om die edikte van Julius
Malema toe te pas, soos dat “minderhede” weggehou moet word van die “ekonomiese
bondels” – ’n eufemisme vir die trog!
Dit is geen wonder nie dat bruin
mense reageer met die enigste mag wat hulle in ’n de facto-eenpartystaat het –
die geskooldes emigreer toenemend en ontneem die land broodnodige vaardighede.
Ander reageer by die stembus. Bruin mense moet ligloop vir politici wat voor
die plaaslike verkiesing geskenke aandra, maar hulle agterna die rug toekeer.
En, terloops, sal die minister van
finansies, mnr. Pravin Gordhan, asseblief verduidelik hoekom die voorsitter van
die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap R1,8 miljoen verdien, en hoekom R29
miljoen geoormerk is vir ’n konferensie vir ’n klomp halfgeletterdes sodat
hulle op belastingbetalers se koste kan fuif eerder as om te sorg dat hulle
geskool word? Met daardie geld kan minstens 500000 werksgeleenthede geskep
word. Is daar ’n grootbaas wat bereid is om die ANC-regering aan te vat omdat
hy belastingbetalers se geld gebruik om die party te bevorder?
- Die Burger
No comments:
Post a Comment