Suid-Afrika het, wat misdaad betref,
baie min om op trots te wees, ons veelgeroemde “Trots Suid-Afrika”-veldtog ten
spyt.
Met 2100 aanvalle wat verlede maand
binne drie weke net in die Wes-Kaap aangemeld is, 1555 padsterftes net in die
feestyd, om nie eens te praat van ons moord-, roof- en verkragtingsyfers nie,
is ons land voorwaar ’n misdaad-mekka.
Kriminoloë en sielkundiges breek hul
kop om te probeer verstaan waarom ons so wetteloos is.
Die antwoord is eintlik heel
eenvoudig. Ons minagting spruit uit ons nasionale psige, gevoed deur ’n
korrupte staat onder sowel die apartheids- as die ANC-regering. Gevorm deur
apartheid, het ons psige versleg onder die ANC se bewind.
Dit is ’n politieke party wat geen
ontsag het vir die oppergesag van die reg nie, en wat ’n tydsgees gevestig het
wat gaandeweg die grondwetlike instellings vernietig wat bestem was om die
oppergesag van die reg te handhaaf. Die aanstelling van ongekwalifiseerde
kaders soos Menzi Simelane, en nou Nomgcobo Jiba, as hoof van die nasionale
vervolgingsgesag staaf my punt. Ander partylojaliste het die Regterlike
Dienskommissie vernietig, asook die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die SA
Menseregtekommissie en die sterwende Geslagskommissie, om maar net enkeles te
noem. Maar erger nog: Van die president tot by gewone lede van die parlement
het toenemende wetteloosheid tweede natuur by politici geword.
Pres. Thabo Mbeki het die presedent
geskep met die gebruik van staatsinstellings ter bevegting van sy teenstander,
Jacob Zuma. In die proses het Mbeki die meeste van hierdie instellings
vernietig. Ondanks sy teenkanting van Mbeki manipuleer pres. Zuma die staat se
hulpbronne op dieselfde manier. Hy het onbekwame en ondergekwalifiseerde mense
aangestel as hoof van ons land se invloedrykste grondwetlike instellings, met
die duidelike bedoeling om dit te verswak.
Beheer oor die kontroles van mag is
slegs moontlik indien diegene wat in magsposisies aangestel word, onder
verdenking staan. Waar kamerade weet van die ander se geraamtes in die kas, kan
volkome beheer oor hulle uitgeoefen word.
Dink aan die reisskandaal. Dit het
gewys hoe korrup die binneste heiligdom van die parlement geword het. Pleks
daarvan dat die skuldige parlementslede geskors is, het die speaker, Frene
Ginwala, en die adjunkspeaker, Baleka Mbete, hierdie onverkwiklike sage onder
die maatemmer verberg in die volle wete dat sou al diegene onder verdenking
aangekla word, sou die parlement na alle waarskynlikheid ontbind moes word. Hierbenewens is Mbete skuldig bevind aan die bedrieglike verkryging van ’n
motorrybewys, en vir haar oortredinge beloon met bevordering tot speaker.
Regter John Hlophe, met sy weergalose
geskiedenis van regsoortredinge, is steeds regter-president van die Wes-Kaap.
Hy is klei in die staat se hande, sou die regeerders ooit sy beskerming nodig
hê.
Die berugte Snuki Zikalala het byna
die SAUK vernietig, maar die ANC het aan hom verknog gebly totdat die openbare
uitsaaier se boom totaal uitgeval het.
En ons moet nie ou Jackie Selebi, ons
voormalige nasionale polisiekommissaris, uit die oog verloor nie.
Net toe ons gedink het ons het die
versadigingspunt met die onthullings van straffelose regeringsoptrede bereik,
kom Dan Kgothule, Vrystaatse LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning, met
’n minimum-boete en die behoud van sy pos byna skotvry daarvan af nadat hy met
’n snelheid van sowat 235km/h gejaag het.
In hierdie gelade atmosfeer maak die
onblusbare Winnie Madikizela-Mandela haar verskyning. Ao. Jannie Odendaal en konst.
Abel Twala word verguis en verneder nadat hulle bloot hul plig gedoen het deur
madame Madikizela-Mandela se voertuig van die pad te trek weens roekelose
bestuur. Hulle word tot skurke gemaak bloot omdat hulle die wet vreesloos
toegepas het.
Met haar visier op die
polisiebeamptes het die onteerde Winnie gegil: “Weet julle wie ek is?” Hulle
moes gesê het: “Ja, ons weet. Jy is ’n gewoonte-oortreder en verkragter van die
oppergesag van die reg, in die gedaante van die Moeder van die Nasie.” Hulle
moes haar en haar lyfwag geboei het en in die tronk gestop het waar hulle
hoort.
William Gossett herinner ons daaraan
dat “die oppergesag van die reg binne een misleide generasie uitgewis kan
word”.
En Dwight Eisenhower het gewaarsku
dat die duidelikste manier om te wys wat die oppergesag van die reg in die
alledaagse lewe vir ons beteken, is om in herinnering te roep wat gebeur
wanneer daar geen sprake van die oppergesag van die reg is nie.
Zimbabwe, hier kom ons!
- Die Burger
No comments:
Post a Comment